Breadcrumbs
Home /History/Establishment of Ceres / Rooi KampRooi Kamp
Die siening van Rooikamp se oorspronklike inwoners en nageslag was altyd dat die grond deur Koninging Victoria aan hul toegewys was vir bewoning. Hierdie kroongrond is egter in 1933 deur die Regering aan die Munisipaliteit oorgedra as deel van die dorpsmeet. Die persone wat hul hier op die grond gevestig het moes, volgens oorlewering, self hul woonpersele uitgelê en skoongemaak het. Selfgemaakte grondpaadjies is tussen die persele aangebring. Die naam Rooikamp kom van die rooi kleigrond wat in die deel voorgekom het en ‘n oudinwoner vertel dat die rooi klei dikwels gebruik is om hul huise en ringmure in stand te hou.
As woonbuurt was Rooikamp problematies agv ‘n gebrek aan infrastruktuur en kon munisipale dienste moeilik verrig word. In die sestiger jare besluit die munisipale Raad dat erwe formeel opgemeet en behoorlike paaie gemaak moes word. Inwoners kon dan ook kaart en transport ontvang van die nuwe erwe. Tydens hierdie proses vind die aardbewing in 1969 plaas. Die oorgrote meerderheid van die husies word onherstelbaar beskadig. Die Rampkomitee volg ‘n beleid waarvolgens bewoners ruimskoots vir die skade vergoed word, wat tot ‘n groot mate bydrae tot die heropbou van die woonbuurt en die oordra van die erwe op die name van die bewoners.
Rooikamp se omliggende buurtes het interessante name gehad wat volgens oorlewering aan verskeie faktore toegeskryf kan word bv Gordyntjiesdorp (weens die feit dat die huisies nie binnedeure gehad het nie, maar sommer met gordyne toegemaak is), Volstruiskamp, White City (as gevolg van die wit waaisand wat in die deel voorkom), New Town (na die aardbewing was die oorspronklike twee vertrek huisies vervang met viervertrekke), Voetbalkamp (huisies was op die vorige voetbalveld gebou). Later is Volstruiskamp afgebreek en is daar ‘n aftreeoord gebou bekend as Maple Park. Vandag is Rooikamp en sy omliggende buurtes ‘n goed ontwikkelde dorpsgebied wat met die volgende kan spog: Rietvallei Biblioteek, Huis Peter Strauss Ouetehuis, Eiland vakansieoord, Annie Brown kliniek, gemeenskapsdiensentrum, verskeie kerkgenootskappe, HM Beets Bewaarskool asook ‘n laer -en hoërskool, goed ontwikkelde sportgronde en verskeie kafees.